Vrystaatse bewaringsboer leer by Moeder Natuur

Bewaringslandbou maak die natuur die boer se bondgenoot, sê mnr. Izak Dreyer van Vrede in die nuutste episode van Landbouweekliks.

Izak Dreyer van Vrede in die nuutste episode van Landbouweekliks.
Die aanbieder Ivor Price het Dreyer besoek om uit te vind hoekom kunsmis en plaagbestryding taboe is op sy plaas en hoe Dreyer sy Bonsmarabeeste se natuurlike trap- en vreetaksie saam met die diere se mis en urine gebruik om
biologiese grondgesondheid te verbeter.

Volgens Dreyer probeer hy by Moeder Natuur leer hoe om die omgewing te benut vir sy boerdery. Dié bewaringsboer het pas sy sesde geenbewerkingoes gelewer en het in die afgelope twee jaar dekgewasse gebruik. Hy het in die
afgelope drie jaar sy beste jare ooit in die boerdery gehad, wat hy sien as bewys dat bewaringslandbou nie net goedkoper is nie, maar ook meer volhoubaar.

Kykers sal in die program kan leer hoe hoëdrukbeweiding Dreyer help om suksesvol te boer. Hy praat ook oor sy droom om die koolstofinhoud van die grond op sy plaas te herstel tot waar dit 200 jaar gelede was. “As jou biologie
verbeter, begin die grond vir jou werk pleks daarvan dat jy vir die grond werk,” sê Dreyer.

 

Ook in vandeesweek se episode verduidelik mnr. Patrick Roux, besturende direkteur van Afgri Equipment, hoekom maatskappye, soos John Deere, graag nuwe tegnologie eerste aan die Suid-Afrikaanse en Australiese mark beskikbaar stel. Mnr. James Patterson van Aerobotics vertel meer oor die tipe landboudata wat met hommeltuie ingesamel kan word, en hoe boere dié data kan gebruik om besluite te neem. Mnr. Hendrik Smith, bewaringslandboukoördineerder by Graan SA, gesels in die episode oor hoekom die beskerming van die grond op jou plaas so belangrik is en hoe organiese materiaal en diversiteit ’n verskil in grondgesondheid kan maak. Landbou.com se gewilde virtuele veearts, dr. Faffa Malan, waarsku boere in sy insetsel teen parasiete en die siektes wat parasiete dié tyd van die jaar by skape, bokke en beeste veroorsaak.

Ivor kry die geleentheid om sy lyf jaagduiwel te hou in ’n baaluitdaging teen een van Izak se plaaswerkers. Moet ook nie vandeesweek se kompetisie misloop nie. Die prys sal veral WesKapenaars
wat swaarkry onder die droogte, gelukkig maak.

Van Netwerk24